Net Genade

Deur MARCELLE DE KLERK

My getuienis begin met een doodgewone dag in ons gesin se huishouding. Ons oudste seun Zantus (8) se twee maats het by hom kom aanklop om wegkruipertjie in ons tuin te speel. Om dit meer opwindend te maak, het hulle vir my gevra of Zantus se twee boeties, Xarius (3) en Marnus (2), saam met hulle mag speel. Soos die Engelse gesegde sê ‘The more the merrier’ en was my antwoord natuurlik ja, want soos hulle dit geniet, geniet Xarius en Marnus dit net so om lekker te kan saamspeel.

Ek het op die stoep gesit en hulle fyn dopgehou, want dit was herfs en die blare het in die swembad gelê. Ons het nie die swembad net opgehad nie, aangesien ons die blare nog later die middag uit die swembad wou haal. Die stoep kyk mooi uit op die swembad, so ek het baie gerus gevoel om daar te sit.

Na ‘n ruk het ek vir Zantus, sy twee maats asook vir Xarius en Marnus gesê ek gaan net die wasgoed binne haal en dit buite op die stoep kom opvou waar ek hulle steeds kan dophou. Ek het die drie oudstes gevra om asseblief die babas, soos almal die twee kleinstes noem, net dop te hou en ook gevra een moet steeds by hulle wees wanneer hulle wegkruip terwyl ek net gou die wasgoed uitbring stoep toe.

Soos ek my rug gedraai het, het Xarius my geroep en ek het dadelik gedink hy wil hê ek moet hom help soek na díe wie wegkruip. Ek het probeer tyd wen deur met hom geselsies aan te knoop vanuit die huis soos ek die wasgoed vinnig bymekaar geraap het. Maar Xarius se noodkrete het al hoe meer benoud geraak tot hy na seker ‘n minuut dit uit sy klein mondjie kon kry dat Marnus in die swembad is.

Nou, ek kan nie beskryf hoe dit op mens se ore val nie…ALLES word yskoud. Jou bene word soos dooie gewig, maar op ‘n manier kom jy binne twee tree by jou kind uit. Marnus ken nie swem nie. Ek, sy ma, doen wel. Ek het geswem op skool. Swemgala’s, die Midmar Myl, elke dag gaan oefen vir ‘n paar jaar. Swem is vir my van 3 jarige ouderdom af so ingebore soos loop. So hierdie ironie het alles deur my kop gemaal met die twee tree oppad swembad toe. En saam met dit het ek gebid: asseblief Here, asseblief laat hierdie kind van my hierdie kennis wat ek het van swem net ‘hê’, want ek het hom slegs in die gym se swembad laat gewoond raak aan water en so tussendeur laat borrels blaas, skop en inspring. Ek het nie eers gedink aan die impak wat die koue water dalk op sy lyfie mag hê nie.

Toe ek buite kom, het my liefste Marnus soos ‘n paaltjie in die swembad gedryf. Sy koppie het soos ‘n polistireen balletjie bo die water gedryf en sy lyfie was onder die water. En sy blouste ogies was kalm en vol lewe. My kind wie nie kan swem nie, wie in die swembad geval het, LEEF. Hy dryf met die grootste kalmte, die Here se Hand is onder hom.

My derde tree was in die swembad in met skoene en klere. Ek het hom reg langs die swembad neergelê reg vir mond-tot-mond-asemhaling, maar dit was nie nodig nie.
Die Here se Hand was heeltyd onder my kind in die swembad. Tot ek weer as mamma kon intree en hom uithaal. Hy het absoluut niks water gesluk nie en ook geen skok ervaar as gevolg van die koue water nie.

Sy boeties het in die proses baie skuldig gevoel en ek het hierdie wonderlike kalmte oor my gekry om nie paniekerig te wees nie en hulle te verseker dat dit glad nie hulle skuld is nie. Want dit is nie. Elkeen het gedink die ander een is by hulle en gelukkig was Xarius by Marnus en gelukkig het die Here vir Xarius die vermoë gegee om my te kan roep.

Met tyd het ek deur baie selfoordeel en ander se oordeel gegaan. Ja, ek móés heeltyd gekyk het. Ja, die swembad móés toe gewees het. Ja, mens los nie ‘n kind vir ‘n sekonde alleen nie. ‘Wat as’ Xarius my nie geroep het nie…

Ek het baie geworstel met die ‘wat as’, maar met tyd het die Here my kom rustig maak soos ek Sy Woord bestudeer het. Dit was ‘n ongeluk en Hy was daar. Ek is net mens en niks maak my minder lief vir my kind nie.

Ons kan nie altyd by ons kinders wees nie, al wil ons hoe graag. Ons kan ook nie alles beheer nie – ons is net mens en maak ook foute. Dit is waarom ons elke oggend die Here se Hand oor én onder ons kinders moet toebid en moet toevetrou. Hy het ons aangestel as ouers en versorgers, maar ons moet steeds onthou Hy is in beheer. Ons kinders is Sy kinders en ons is as ouers aangestel juis deur Hom omdat ons die beste ouers vir daardie spesifieke kind is. Ons kry die vermoë van die Here om ons kinders te kan grootmaak volgens Sy wil en roeping vir hulle lewens en ek is dankbaar dat die Here in ons huis is.