About Mammas 24/7
Advice, support, an ear to lend

“No one knows how to be the perfect mother – I don’t think there is such a thing as the perfect mom – but with the support, advice and encouragement of others you’re able to do the best for your child.”
– Charné Cronjé, Founder Mammas 24/7

“Niemand weet hoe om die perfekte ma te wees nie – ek dink nie daar is iets soos die perfekte ma nie – maar met ander se ondersteuning, raad en bemoediging kan jy die beste moontlik vir jou kind doen.”

Aan die woord is Charné Cronjé (32) van Kimberley wat op haar eie waarskynlik die grootste Afrikaanse ouerskapplatform op sosiale media in Suid-Afrika bedryf. Haar Facebook-blad Mammas 24/7 het meer as 145 000 volgelinge – en dit groei daagliks.

Op haar eie hanteer Charné die meer as 2000 boodskappe wat die hoofblad per maand ontvang. Hiervan plaas sy maandeliks 400 tot 600 vrae op die blad waarop die volgelinge kommentaar of raad kan gee.

Raad, ondersteuning, `n oor om te luister…..

Om self raad en ondersteuning te ontvang was juis Charné se dryfveer om by die blad betrokke te bly.

Sy vertel Mammas 24/7 is in 2012 deur `n vriendin gestig. “Ek het in 2013 deel van die span geword en dit in 2014 oorgeneem. Sedertdien bestuur ek dit op my eie.”

Sy het haar by Mammas 24/7 aangesluit ná die geboorte van haar eerste kind. “Ná skool het my lewe basies uit net myself en my man bestaan, met geen familie of vriende naby om my by te staan nie. Met my man se werk het ons baie rondgetrek. Ons het altyd honderde kilometers van die naaste familie af gewoon. Ek was baie alleen en het nie regtig `n idee gehad hoe om ma-wees te hanteer of te doen nie,” vertel sy.

“Ek het ook nageboorte-depressie gehad omdat ek so alleen gevoel het. Dit was vervullend om van Mammas 24/7 deel te word, en ek het sonder enige medisyne deur die meeste van my depressie gekom omdat ek ondersteuning deur die blad verkry het. ’n Mens kan seker sê die mammas op die blad het my gehelp om my kinders groot te maak. Ek het altyd verskeie menings op my vrae gekry, so ek kon die een wat die beste vir my werk, gebruik.”

Sy beskryf Mammas 24/7 se sukses as die Here se seën en sê sy stap in absolute geloof en gehoorsaamheid teenoor Hom.

Charné het reeds Facebook begin gebruik toe dit in Suid-Afrika beskikbaar geraak het, en het “saam met dit gegroei”.

“Soos nuwe goed of maniere van doen ontstaan het, het ek saam met dit geleer.” Sy besef dat sy die geldelike of advertensie-aspek van Facebook veel beter kan benut, maar vir haar gaan dit oor meer as dit.

“Ek doen dit nie vir wat ek daaruit kan kry nie, maar omdat ek `n passie het om ander te help. Ek moet baie uitgawes vir Mammas 24/7 aangaan, en daarvoor het ek borge wat die gate toestop en help dat ek dit so suksesvol moontlik bestuur. Om so `n groot blad te bestuur neem ongelooflik baie tyd – en natuurlik ook data!”

Vir haar lê die sukses van die blad daarin dat `n ma die meeste van die tyd `n oor nodig het; iemand om iets mee te deel en dinge van haar hart af te kry.

“Mense is so gewoond daaraan om op te krop en het nie altyd iemand met wie hulle hul hart of gevoel kan deel nie. Hierdie soort boodskappe kry ek gereeld. Ek dink die blad is `n veilige plek waar ma’s juis dit kan doen.

“Ek spot altyd en sê ek is die grootste geheimbewaarder in Suid-Afrika wat vroue se geheime weet en vir myself hou. Ek weet eerste wanneer iemand swanger is, voordat dit met familie of vriende gedeel word, Ek weet ook wat agter geslote deure of in die slaapkamer aangaan, en weet van probleme wat dalk in die huwelik ervaar kan word.”

Charné vertel dat sy nooit `n ruskans van Mammas 24/7 neem nie. “Nie eens Sondae, op feesdae of met spesiale geleenthede soos verjaardae nie. ‘n Ma se vrae hou nie op nie. Al het `n ma om 02:00 `n vraag, word dit steeds geplaas. Mense dink ek slaap nie en ek dink hulle is dalk reg… dit is uitputtend, maar die Here help my met genoeg tyd om dit suksesvol te kan doen.”

Niks maak so seer soos woorde

Op elk van die 400 tot 600 vrae wat per maand op die blad geplaas word, lewer gemiddeld 40 mense kommentaar.

“Dit is nie meer vir my moontlik om al die kommentaar te lees nie. Ek maak staat op die volgelinge van die blad om my in kennis te stel indien daar iets negatiefs is. Dan sal ek dit hanteer.”

Een aspek wat haar pla, is dat mense meer en meer negatief op sosiale media raak.

“Hulle skryf kommentaar sonder om oor die gevolge te dink en oordeel so maklik `n ander. Ek sal bitter graag wil sien dat mense meer positief is en dink; mekaar nie afkraak of aanval nie. Niks maak so seer soos woorde nie – die letsels bly vir ewig daar.”

Wanneer `n volgeling voortdurend negatiewe kommentaar lewer of ander afkraak, verwyder Charné die naam onmiddellik en permanent van die blad af.

“Almal wat Mammas 24/7 volg, weet teen dié tyd waarvoor die blad staan. As jy nie positief kan wees en iemand kan bemoedig nie, dan hoort jy ongelukkig nie op dié platform nie. Soms los ek kommentaar waar ek voel dit iets is wat aangespreek moet word, en hou my oog dan daarop. Ek maak seker almal op Mammas 24/7 verstaan dat elkeen op haar eie mening geregtig is, solank dit op `n positiewe manier gegee word.”

Prentjie raak duidelik in Kimberley

Charné is getroud met Rudi, ‘n “ongelooflike man wat van Bo aan my gestuur is”.

Sy sê dit verg `n besonderse man om te verstaan wat sy met Mammas 24/7 doen en waarom sy dit doen.
“Ons het `n ongelooflike verhouding en dit word werklik elke jaar net beter. Ons het ook die twee pragtigste kindes – Makayla, wat eersdaags elf jaar oud word, en Kayden, wat binnekort nege word.”

Charné is in die Kaap gebore en het in Port Elizabeth grootgeword. Haar hart is by die see, en soms raak die verlange na die vars seelug erg.

“Ek weet die seisoen in Kimberley, waar ons onsself nou bevind, is fundamenteel vir ons lewe. Ons lewe het handomkeer gedraai vandat ons in Kimberley is. Al het ons dit nie in die begin verstaan nie, het dit onlangs baie duidelik geword hoekom ons hierheen gestuur is.”

Benewens Mammas 24/7 skryf sy vir Carpe Diem en die vrouetydskrif Finesse. Boonop is sy die mede-redakteur vir Goue Munt, `n gratis geselstydskrif in Kimberley. Sy het ook verlede jaar haar graad in Christelike bediening verwerf en is besig met haar Honeurs in Christelike berading.

 

Dié artikel is oorspronlik geskryf in Augustus 2020 deur Helena Barnard en geplaas in die Noordkaap koerant, Volksblad en op die Netwerk24 webwerf. Die oorspronklike artikel is verwerk en opgedateer.