Ek is moeg

Deur MELISSA AUCAMP

Kom ons wees gou eerlik…

Niemand berei jou voor nie. Niemand sê vir jou dat jy min gaan slaap of dalk niks gaan slaap nie. Niemand sê vir jou dat jy dalk nie gaan kan borsvoed nie of dat jy soms meer gaan huil as jou baba of kleuter nie.

Weet jy wat is die grootste waarheid wat niemand vir jou sê nie? Dit raak moeiliker! Elke ouderdom en fase het sy eie mooi en sy eie moeilik

Daar is soveel mooi, te veel om te noem.

Maar daar is ook altyd ‘n moeilik. Daar is altyd ‘n eerste keer wat jy iets gaan ervaar wat jy nie verwag het nie en wat uitdagend is.

Hoekom sal daar nie wees nie? Ons kinders kyk op na ons om hulle liefde, aandag en respek te leer en gee.

Een voetfout en ons kinders is verewig getraumatiseerd en jare later sit ons almal in ‘n sielkundige se praktyk oor wat jy as ma gedoen of nie gedoen het nie. Ons almal, elke liewe een van ons het hierdie vrees om nie perfek te wees nie en om skade aan te rig.

Ons het ‘n groot verantwoordelikheid en ons voel dit, daagliks. Dit is mooi en wonderlik en dit is ook uitputtend en senutergend.

Ek weet hoe ek klink. Negatief en depressief.

Ek is nie. Nie een van die twee nie.

Ek’s ‘n ma net soos jy wat haar beste probeer elke dag en wat voel ons het nodig om die waarheid te deel sodat ons nie meer soos mislukte ma’s sal voel as ons durf sê ons is moeg nie.

Ons is almal soms moeg en ja ons kort soms ‘n breek. Dit maak ons nie minder lief of minder opgewonde oor ons pragtige kinders nie. Waarom mag ons dit dan nie sê nie?

So laat ek die eerste een wees wat my hand opsteek en my moeë hart op my mou sit. Eks moeg!

Ek’s moeg myself gemeet aan ander ma’s se manier van dinge doen. Ek’s moeg om gebombardeer te word met moet’s en moenie’s en regulasies van sosiale media en toeskouers. Ek’s moeg vir rollende oë en vingers wat wys. Eks moeg vir sarkastiese opmerkings wat so suutjies in gesprekke gegooi word.

Ek’s moeg vir die gestry onder ma’s oor borsvoeding, natuurlike geboortes, vaste kos en oorbelle inskiet. Ek’s moeg om skuldig te voel as ek werk en skuldig te voel as ek nie werk nie. Ek’s moeg om niks die aand (of jare- wie tel?) te slaap nie.

Ek’s so moeg vir “terrible two’s” en om sag te praat as ek ook net wil skreeu. Ek’s moeg vir die foute wat ek as ma begaan en hoe dit my maak voel agterna. Ek’s moeg om te hoor jy moet die moeilik ook waardeer en die tyd gaan gou verby – so geniet dit, ek’s nog moeër om dit self te sê aan die einde van ‘n sin, net oor ek so bang is iemand verstaan my verkeerd dat ek dalk my lewe sonder my kinders sou verkies.

Ek’s moeg om moeg te wees.

Want ja dit is waar, my lewe is beter as ooit tevore saam my pragtige twee klein kindertjies. My lewe is vol liefde, liefde wat ek nie geweet het bestaan nie. My lewe is voller as vol en my hart loop oor. Ek sal nie een aand se slaap kies oor ‘n dag sonder my kinders nie, dit is alles waar en dit sal altyd wees. My kinders is my lewe. My geluk. My wêreld.

Maar ek is net mens. So is elke ma daar buite – net mens. En dit is okay om moeg te wees. Dit is okay om te sê jy is moeg.

Dit is okay om ‘n breek te vat en dit is okay om te huil en soms te skreeu en uiting te gee aan ons emosies.

Grappies is ook okay. Grappies is op moeilike dae soms al wat ons dra… Wel dit, sjokolade, wyn, gebede en koffie.

‘Ek is moeg’ is nie gelyk aan ‘ek kan nie’.

Is nie gelyk aan ‘ek’s ‘n slegte ma’ nie, is nie gelyk aan ‘ek soek nie kinders nie’.

Ek is moeg beteken ek is moeg. En dit is ons almal soms…