Die Here het jou mooi gemaak
Deur Marcelle de Klerk
Elke dag dreun Bernice West se stem ten minste 3x deur ons huis en ek sing saam met ons drie seuns oor hoe mooi die Here ons gemaak het. En so skelm vang ek myself nog in die hoek van my oog hoe ek saam met hulle so lekker danspassie gee, want Hy het my óók MOOI gemaak.

Mens kan uit twee verskillende oogpunte na die liedjie kyk: Iemand sien hom/haarself deur die Here se oë soos wat ek hieronder sal verduidelik, óf iemand is bloot vol van hom/haarself. Ekself sien dit nie as laasgenoemde nie, want as jy glo jy is na die beeld van die Here gemaak, ís jy mooi. En jy sál dans vir jou God uit dankbaarheid dat Hy jou gemaak het.
En nou is ek weer terug op die lirieke van hierdie liedjie. Onbewustelik sê jy … keer op keer, jy is goed genoeg net soos wat jy is – jou gesig, jou lyf en elke tree wat jy gee. Ek wonder, as ons kinders elke dag hierdie liedjie luister en verstáán wat hulle sing, sal boelie gedrag nie dalk afneem nie? Sal elkeen nie makliker kan sê: “Dit wat jy nou van my sê is teen wat die Here van my sê.” Hierdie liedjie is vir my soos ‘n wapenrusting wat jy vir jou kind kan aantrek om hom/haar die nodige selfvertroue te gee om die dag aan te pak.
Wanneer jy na jou gesig kyk, jou ‘koppie’ soos Bernice dit vir ons kinders stel, dra dit uit hoe jy fisies lyk. Mense herken jou dadelik aan jou karatereienskappe van jou gesig. Van oor die sewe biljoen mense op aarde is daar nie een enkele mens wie soos jy lyk nie. Die Here het jou beplan, ontwerp, gevorm en aanmekaar gesit. “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep…” Psalm 139:13-16. Volgens Genesis 1:27 is jy is na die beeld van die Here geskep en dit gee vir jou genoeg rede om te dans!
Jou lyf is heilig want die Here het dit gemaak. En alles wat Hy gemaak het, het ‘n doel. Die Here het ook jou liggaam as Sy huis gekies en dit dra groot genoeg waarde om baie opgewonde te raak. “Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie?” 1 Korintiërs 6:19.
Die unieke pad wat ons voete stap is daar waar ons onself nou bevind. Dit is waar God ons roep om te wees. Wanneer ons Hom ken in alles wat ons doen, sal Hy ons die regte pad laat loop (Spreuke 3:6). Wanneer ons dan elke dag kies om tot Hom te nader, wys Hy vir ons die pad wat ons moet loop en daar ontwikkel ‘n nabyheidsverhouding waar jy saam die Here kan gesels, luister, lag en hartsake deel.
Volgende keer as Lyfie van Bernice West se deuntjie in jou huis of op die radio speel, weet beslis die Here hét JOU baie mooi gemaak. En dit gee genoeg rede vir jou om te dans tot eer van Sy naam.