Die hartseer M-woord…Miskraam
Deur ELMIEN BARNARD
Deur al die jare wat ek met ander se seer werk en deur my eie is – is die een woord vir my een wat elke keer dwars gaan sit. Miskraam. Dis die seerste seer met die koudste woord.
Die woord self klink na ‘n mediese misverstand. Dit klink soos blaam, soos ‘n keuse. Dit verwerp die chaos wat dit skep, die hoop en drome wat dit verpletter. Dit is ‘n klub waarby niemand gevra het om aan te sluit nie.
Elke vrou en gesin wat ooit deur die hartseer was en is, weet dis meer as net ‘n ‘mis’ en ‘n ‘verlies’. Dit is meer as net ons swangerskap wat verlore gaan – ons verloor drome, hoop, begeertes, ons onskuld, vertroue in ons vermoëns as vrou, vertroue in ons liggame en ‘n diep emosionele band wat ons gehad het – ongeag in watter trimester dit gebeur.
Daar is soveel vlakke van verlies – onsigbaar en onwerklik vir ander. En dit help nie dat ons leef in ‘n samelewing waar die dood ietwat taboe is nie en dat ons konstant herinner word dat ons net moet dankbaar wees nie. Daar is geen reëls in hoe jy treur en die proses deurwerk nie, maar ek glo dat die treurproses anders is as met ander verliese. Die verlies van ‘n baba gaan teen ons idee van wat ‘normaal’ is en wat ‘natuur’ is. En ook – dis ‘n liefde wat mens so diep ervaar dat die hartseer net so diep is. En dit is ook ‘n punt wat ek baie graag wil uitlig en keer op keer met my kliënte deel: Moet nie jouself met ander vergelyk nie. Dit is moeilik en ons is geneig om altyd die ‘hulle het dit erger’ te soek. Dit het niemand nog ooit regtig gehelp nie. Dit laat dit meer voel asof wat ons voel nie belangrik is nie. Dat ons selfsugtig is om hierdie gevoelens te deel of te ervaar. Dit moedig net meer ‘lyding in stilte’ aan met skaamte en skuldgevoelens i.p.v die liefde, ondersteuning en genesing wat ons nodig het. Hierdie stelling keer dat ons oop met mekaar kan gesels. Soveel paartjies is al deur dit en sal ook nog deur dit gaan en daar is niks soos die mag van vrouens wat mekaar ondersteun en dra wanneer dit nodig is nie.
Hier is ‘n paar voorstelle wat ek graag deel, om elke dag net te probeer aanpak. Jy moet iets vind wat die beste vir jou is, terwyl jy jouself weer leer ken… wees ten alle tye net sag en liefdevol met jouself en jou maat.
Vind ‘n veilige spasie om jou gevoelens uit te druk, soos wanneer jy kwaad voel en net wil huil… ‘n privaat kamer om in jou kussings te huil, te skree of te slaan. Laat die emosies uit! Voel hulle – erken hulle… Opgeboude emosies demper ons siele ook.· Jy hoef nooit jou gevoelens te regverdig nie. Dit is jou eie en geldig. Onthou dit. ⠀
- Bak iets, maak iets. Die skep van iets bring altyd rustigheid vir die hart en ook die gedagtes.
- Vier en eer jou swangerskap. Jy kan ‘n dagboek hou en skryf oor swangerskap- en verlieservaring, ‘n ‘memory book’ op stel en belangrike datums van jou swangerskap in te sluit, ‘n boom te plant of iets ter herinnering van jou babatjie te laat maak, soos ‘n armbandjie of ‘n hangertjie. Herinneringe uit liefde en deur liefde – nie net verlies en hartseer nie.
- Onthou ons woorde en ons gedagtes maak ons (onsself en ons maats) meer seer as wat ons weet … wees bewustelik sag met jouself (jou gedagtes) en jou genesing en die hoofstuk in julle lewe.
- Onthou dat ons almal ons hartseer anders hanteer en jou maat ervaar sy of haar eie vorm hiervan. Wees mekaar se veilige hawe.
- Hou op Google!
- Selfsorg is soooo belangrik en maak dit ‘n prioriteit…
- Vra soveel vrae as wat jy kan aan jou dokter en jou mediese hulp.
- Haal diep asem – maak jou sintuie wakker vir alles wat rondom jou is… luister na jou gunsteling musiek, maak jou gunsteling ete…
- Vat dit dag-vir-dag en herhaal dit elke dag.
- Onthou dat daar ‘n verskil is tussen trauma, rou/treur en skuldgevoel. Elkeen moet ook op sy eie deurgewerk word.
Ons skryf almal ons eie verhale en elke hoofstuk is gevul met ons herinneringe, ervarings en avonture. Ongelukkig is sommige hoofstukke gevul met seer en hartseer. Die hoofstukke verander ons en dit voel asof ons nie verder kan skryf nie. Ons is bang om die pen op te tel, want ‘wat as’ … maar ons is dit verskuldig aan hierdie hoofstuk en die lesse wat ons leer om verder te skryf. Ons pers dan blomme op die bladsye van die hoofstuk, gaan lees die hoofstuk van tyd tot tyd met liefde, maar ons gee ook die volgende hoofstuk al ons vertroue dat dit ‘n pragtige een sal wees. Daar is meer aan jou as hierdie stryd … en jy is nie alleen nie, al het jy nog nooit so alleen gevoel nie. Kontak jou geliefdes of professionele hulp as jy voel dat dit te veel is vir jou. ‘n Ma se liefde word nie in weke gemeet nie. En jy hoef nie antwoorde op als te kry, sodat jy vooruit kan gaan nie. Jy is genoeg. Meer as genoeg!
