Kinderhuiskind
Deur Nastassja Nieuwoudt
Ek was 4 jaar oud toe my pa vermoor is, en ons kinderhuis toe is. Ek onthou die klomp huise, die nuwe dorp, die verlange na wie agtergelaat is. Ek onthou tannie Annetjie Stahmer en haar man. Hulle het my met ope arms ontvang en min sou ek weet dat tot vandag toe sal ek die waardes hê wat hul my van kleintyd geleer het. Hulle sou na my omsien tot ek 11 is.
Ek lees so baie van mense wat praat dat kinderhuiskinders gewoond raak om alleen te wees, hulle ken duidelik nie my huisouers wat ek gehad het nie. As ons gehuil het, was my tannie daar, EN daar was altyd iemand. Of dit ons huisouers was of jou kamer prefek. Daar was altyd vir jou iemand. Ek dink tog dat kinderhuis kinders meer geseën was(is), want hulle het 3 maal ‘n dag kos gekry, het nooit honger gaan slaap nie, behalwe wanneer hulle vakansies huistoe is. Hulle kon aan enige sport deelneem, ja meestal in tweedehandse klere, maar dit was nog ordentlik. Jy het geleer om na jouself kyk, m.a.w eie bed opmaak, skoonmaak ens. By die kinderhuis het ek meer soos ‘n kind gevoel as by my eie ouerhuis.
By die kinderhuis het ek geweet dat my huisouers lief is en omgee vir my. Hulle het saam met ons gelag en saam met ons gehuil. Hulle het ure saam met ons gesit en huiswerk doen, leer vir ‘n toets en take gedoen, sonder om eenmaal te kla daaroor. Nooit het ek my huisouers hoor kla nie. Wanneer ek terugdink aan my kindertyd, was die kinderhuis een van my beste herinneringe.
Ek verstaan mense wat nie self in ‘n kinderhuis was nie, sal dink hulle weet wat daar aangaan. My eie vriendin het in hoërskool eendag ‘n mening gehad dat kinderhuis kinders vuil is, stink en luise het. Toe ek vir haar sê ek was een, was sy so geskok en het sy gesê maar ek lyk en gedra my nie soos een nie. Moral of the story is: Moenie aannames maak nie.
Vir elke huismamma wat na leenkinders kyk, baie dankie. Baie dankie vir die rol wat julle in daardie kind se lewe speel. Dankie dat julle liefde vir ‘n kindjie gee wat nie jou biologiese kind is nie. Dankie dat julle die geduld het vir kinders wat net seerkry ken in die lewe, en dink dis hoe mens liefde wys. Maar julle gee nie op nie, julle bly liefde gee. Dankie vir jou opoffering
En vir my liewe tannie Annetjie Stahmer, ek hoop ek het so goed uitgedraai soos wat tannie van my geglo het! Ek hoop dat ek tannie trots gemaak het.
