Skoolmamma oorlewingsgids

Deur Charme Kriel

My vriendin by die werk se dogtertjie is vir die eerste keer die jaar skooltjie toe. Nog nie skool-skool nie, maar ‘n ordentlike kleuterskool met fondsinsamelings en “get togethers”. Vanaand is sy op pad na haar heel eerste mamma “get together”. Sy voice note my met ‘n giggel in haar stem en sy vertel my van haar gesonde snack platter en wat sy aantrek. Ek ‘oo-en-aa’ en dink terug aan die eerste keer toe ek na ‘n “onskuldige” mamma-piekniek genooi is. Elke skool het verskillende mammas en jy leer hulle almal binne ‘n paar sekondes ken.

Die in-beheer-mamma  groet dadelik vriendelik en vol selfvertroue. Sy was óf hoofmeisie óf eerste span netbalkaptein óf albei by haar eie skool. Sy neem natuurlik leiding en ken almal se name, want sy het die whatsapp-groepie se kontakte gememoriseer. Sy gaan iewers in die aand vir jou vra waar jy betrokke wil raak en jy gaan sterk moet staan as jy moet nee sê.

Die sosiaal-wanaangepaste-mamma  vermy oogkontak en lag twee minute na die grappie. Sy werk nie saam met mense nie en maak dit duidelik dat sy nie regtig betrokke wil wees nie. Tog wil sy by elke vergadering in die hoekie bly sit en sy vra altyd een ontydige vraag wat reeds beantwoord is.

Die ek-het-nie-tyd-nie-mamma het letterlik nooit tyd nie. Sy wil betrokke wees en het voor gestaan toe talente uitgedeel is, maar sy is altyd laat vir alles. Sy het reeds veertien balle aan die rol en die skool-bal is definitief nie nommer een nie.

Die klakous-mamma weet net hoe om elke fout uit te wys. Sy dra nie regtig by tot die groei van enige iets nie, maar huiwer nie om die donker wolkie oor elke sonskyndag te trek nie.

Die ek-dink-ek-kan-als-doen-mamma bied aan om met alles te help. Sy is ‘n “pro” in alles, maar wanneer dit by die werk kom, lyk dit maar redelik amateur. Meeste van haar projekte realiseer nooit nie en sy word na die derde mislukte poging in beheer gesit van die hotdogstalletjie.

Die whatsapp-groepie-skim-mamma praat nooit op enige groep nie. Sy ry self as dit reën met haar sonbril op en ken niemand se name nie. Haar kind hou nooit partytjies nie en jy sal haar nooit ooit by ‘n skoolvergadering sien nie.

Die ek-is-net-hier-vir-die-wyn-mamma is gewoonlik reeds een glas voor die res. Sy sê maklik JA en hou van enige werkie wat nie te veel verantwoordelikheid verg nie. Sy het altyd ‘n groepie mede “wyn-mammas” wat saam oor stout grappies lag.

Die gesonde-snack-mamma bring net vars of tuisgemaakte snappies. Haar kind is intolerant vir iets en kry groen smoothies vir pousekos ingepak. Hierdie mamma is gewoonlik in ‘n gymbroek en het geen grimering nodig nie.

Die ek-werk-nie-mamma is altyd bereid om briefies te vou of winkel toe te ry vir die laaste goedjies. Al haar gesprekke begin met “ek weet nie hoe jy dit doen nie…” en eindig met “ek werk eintlik baie harder as toe ek gewerk het.”

Die nie-my-eerste-rodeo-nie-mamma het reeds 2/3/4/5 kinders op skool of klaar deur skool. Hulle ken elke onderwyser op die naam, weet wat in elke kwartaal moet gebeur en weet waar die spesiale Ouer Verteenwoordiger voorskote in die klubhuis gebêre word.

Tussen al die klomp mammas, vind jy op een of ander vreemde manier jou plek. Jy leer om net genoeg JA te sê sodat die onderwysers darem weet wie se ma jy is. Maar jy leer ook om net genoeg NEE te sê om jou eie kop bo water te hou. Jy leer dat sonder mammas en pappas se bydrae (byde fisies en finansieel) daar nie veel by publieke skole gebeur nie. Jy leer dat om ‘n skoolmamma te wees veel rowwer is as wat jy gedink het en jy het skielik meer respek vir jou eie ma. Jy leer baie vinnig wie jou mense is en dat jou “tribe” jou deur alle krisisse sal kry. Dat dieselfde mamma wat jy gedink het glad nie jou soort mens is nie, juis is wie jy langs die krieketveld nodig het.  Jy gaan leer dat jy uniek is en dat elkeen van dié mammas nodig is om balans te bring in ‘n mal wêreld. Maar meeste van alles gaan jy leer hoekom jy die beste ma vir jou kind is.

So as jy vanaand jou eerste mamma-kuier het, gaan met jou snack platter (tuisgemaak of die pak gekoopte kolwyntjies) en gaan wees net JY! Want JY is wat jou kind nodig het en JY is wat jou kind se skool nodig het. Herken jy van die mammas en watter mamma is jy?