Ma-wees sal my nie onderkry nie

Deur Charné Cronjé

Ons as ma’s bevind ons een of ander tyd met ‘n gebroke gees. Dit is ‘n tydperk waar jy platgeslaan word deur die lewe en nie seker is hoe jy daar gaan opstaan nie. Jy voel eensaam, stukkend, sonder inspirasie en geen doel om uit die bed te klim nie. Jy het jou lus vir die lewe verloor en is net fisies, emosioneel en geestelik uitgeput. Jou menswees en identiteit gaan verlore tussen al die daaglikse verantwoordelikhede.

Ons word so vasgevang in ma-wees, dat ons alles wat vir ons eens belangrik was op sy sit en dan vergeet daarvan. Ons sit daagliks onsself en al ons eie behoeftes laaste sodat almal om ons eerste kom. Dit raak so ‘n gewoonte en die nuwe normaal dat jy skoon vergeet wie en wat jy eens was. Jy wil nie vra vir hulp nie, want jy is ‘n superheld ma wat al die balle in die lug hou en alles self kan doen. Die feit is, jy kan nie alles op jou eie doen nie, jy gaan uitbrand. Om te vra vir hulp beteken nie dat jy misluk het as ‘n ma nie, dit beteken dat jy erken jy is net ‘n mens.

Maak jouself `n prioriteit

 Om jouself eerste te sit beteken nie dat jy nie omgee vir ander nie, dit beteken net dat jy slim genoeg was om te besef dat jy nie ander kan help voordat jy nie jouself gehelp het nie. Jy moet ook besef om jouself ‘n prioriteit nou en dan te maak nie selfsugtig is nie, maar nodig is. Jy het al seker baie gehoor dat jy nie vir iemand anders uit jou beker iets kan bied as dit leeg is nie, jy gaan dit eers moet vul deur te rus en selfversorging. Omring jouself met plekke en mense wat waarde toevoeg tot jou lewe en jy sal ‘n verskil in jou gemoed sien. Maak jouself ‘n prioriteit en die res sal in plek val.

Bly gefokus

Fokus op die drome wat jy vir jouself het, hoe jy die beste weergawe van jouself kan wees en die doelwitte wat jy graag wil bereik, dan gaan jy voluit daarvoor. Daar sal tye wees wat jou omstandighede nie ooreenstem met jou drome nie, maar jy druk deur dit, want dit sal verbygaan en jy sal sterker uitkom aan die anderkant.