#GelukkigeGesin

Deur CHARNé CRONJé, Mammas 24/7

‘n Gelukkige gesin begin by ‘n gesonde en gelukkige huwelik en dit lei na gelukkige kinders. Hierdie kan redelik uitdagend wees met ons alledaagse verantwoordelikhede, want die lewe is soms regtig moeilik, maar God is altyd goed en getrou.

Stel vir jou kinders ‘n voorbeeld deur mekaar lief te hê

‘n Goeie huwelik is nie net iets wat jy vind nie, maar iets wat jy voor moet werk, elke liewe dag. Baie vat dit net as vanselfsprekend, maar dit is nie gewaarborg om vir ewig te wees nie. ‘n Huwelik verg harde werk en bestaan uit ‘n goeie vriendskap waar respek vir mekaar, kommunikasie, lojaliteit, vertroue, liefde en geloof almal groot rolle speel.

Wees die voorbeeld vir jou kinders wat jy vir jouself sou wou hê. Ek glo ‘n huwelik is soos ‘n huis – wanneer iets breek maak jy dit reg, jy koop nie ‘n nuwe huis nie. Om saam deur die slegte tye te gaan, dit te oorwin en terselfdetyd ‘n voorbeeld vir ons kinders te wees, vat krag van bo en deursettingsvermoë. Kinders kyk na hulle ouers en strewe om soos hul ouers te wees.

Om gesonde en gelukkige kinders te hê, moet die huis atmosfeer ook gelukkig en gesond wees. Indien jy ‘n enkelouer is moet jy jou siel gevoed hou en jou gemoed hoog behou. Indien jy getroud is dan moet die fondasie van julle huwelik sterk, stewig en gesond wees. Jou kinders kyk op na jou en hulle gemoed is dié van die huis.

Om ‘n ouer te wees is moeilik, maar só die moeite werd

‘n Ouer se heel belangrikste rol is om aan hulle kinders te demonstreer hoe om ‘n vervulde en gelukkige lewe te leef. Kinders word groot deur na hulle ouers te kyk en die voorbeeld wat hulle stel. Kinders hoor nie altyd die woorde van ouers nie, maar fokus en leer altyd deur die aksies van hul ouers. Dit maak nie saak hoe wonderlik jou woorde dalk mag wees nie, kinders sal nie sommer luister indien jou aksie nie ook daarmee gepaard gaan of dieselfde is nie. Hoe kinders lewe word bepaal deur hoe hulle ouers lewe.

Om ‘n ouer te wees is nie maklik nie, dis letterlik een van die moeilikste beroepe wat bestaan, dit nog sonder ‘n handleiding of enige opleiding. Jy word net in hierdie ding genaamd ouerskap gegooi en die lewe verwag van jou om te swem en met ‘n Baccalaureus graad te slaag.

Alhoewel dit moeilik is, is dit deur en deur die moeite werd. Jy ontdek dele van jouself wat jy nie geweet het bestaan nie, jy ervaar ‘n liefde wat jy nog nooit van te vore vir enige iemand gevoel het nie. Jy sien ‘n deel van jouself in die klein mensie, ‘n mensie wat joune is. Hierdie meesterstuk is aanmekaar gesit en spesifiek aan jou gegee, want niemand kan ‘n beter ouer vir hom of haar wees as jy nie.

God moet altyd eerste geplaas word in julle gesin

Die sleutel om ‘n lewe in oorvloed te hê is om God heel eerste in jul gesin se lewens te sit en om Hom eerste prioriteit te maak. Sodra ons Hom eerste sit, val die res in plek.