Mamma is jammer
Deur MELISSA AUCAMP
Trane lê vlak in haar oë en ek sien hoe sy die knop in haar keel af forseer met ‘n sluk. Ek voel dit ook soms ek weet presies hoe sy voel. Ek voel so skuldig sê sy. “Ek voel soos die slegste ma…”. “Ek voel soms of ek nie my kinders verdien nie” vul ek haar sin in. Ja !!! Presies!! Dit is hoe ek voel sê sy. Daar in my kombuis begin ons twee ma’s uitpak, oopmaak en deel hoe sleg ons soms voel as ons dinge verkeerd hanteer of ongeduldig raak met ons kleingoed.
Ons voel ligter na die tyd, verlig dat daar nog iemand is wat die dinge doen en sê wat ons soms aande wakker hou en waarmee ons soms worstel. Ek voel verfris en gereed om die beste ma te wees wat daar is met sakke vol geduld toe my dogtertjie weer haar gilletjie van toeka tot nou gooi oor – wel, ek kan jou steeds nie sê waaroor nie… Ek haal diep asem, bid, tel tot tien maar voel weer oorweldig en na ek al die “style” en maniere probeer het van verstaan en saam praat op haar vlak en saggies fluister en drukkies gee is my lont kort en voor ek my kon kry verhef ek weer my stem en sê harder as wat ek wou : “genoeg is genoeg magtig!!! Hou net op!!!” Die kamer word stil en al wat oor bly is my skuldgevoel en my snikkende dogtertjie.
Ai my kind. Mamma is jammer. Jammer vir die foute wat ek maak en nog gaan maak.
Vandag het ek te hard gepraat, ek is jammer. Vandag het ek jou aan jou armpie weg getrek van boetie toe jy hom wou seermaak, ek het té hard geruk, mamma is jammer. Ek het vandag ongeduldig geraak oor jy nie jou emosies kon hanteer nie, ek is jammer. Vandag het ek in jou chaos gedeel in plaas van om jou rustigheid te gee, ek is jammer.
Ek is jammer my kind dat ek vandag misluk het in ma-wees. Ek is jammer dat ek vandag ‘n slegte mamma was vir jou. Ek is jammer dat ek nie my eie emosies eenkant kon sit en die stilte in jou storm was nie.
Weet net dat ons foute maak, ja, selfs mamma, en as jy een waarheid vandag kon leer by my in al die chaos, hoop ek dit is dat jy sal weet dit okay is om soms te voel of jy net wil skreeu, ja selfs wanneer jy ‘n mamma is.
Weet dat jy maar foute mag maak solank jy dit sien en weer opstaan en aangaan. Solank jy vergifnis vra, dit regmaak en beter probeer doen die volgende keer. Weer probeer vir nog ‘n keer om in beheer te wees en in die oomblik asem te haal en oor te begin.
Ek kan nie terugvat dat ek hard geraas het nie, of dat ek onredelik en ongeduldig was nie maar ek kan weer probeer.
So my kind môre sal ek op my knieë gaan om jou in die oë te kyk as jy skreeu sodat jy die kalm in my oë kan raaksien en veilig kan voel. Môre sal ek weer probeer om sagter te praat en meer aandag vir jou te gee, onverdeelde aandag. Môre sal ek jou klein armpies om my nek sit al is dit moeilik en al stamp jy my weg. Môre sal ek weer saam jou stap en die kleure van die blomme sien en skoenlappers jaag oor die groen gras. Ons kan môre weer katte gaan soek en lag oor ditjies en datjies.
Môre is nog ‘n dag en môre sal ek weer probeer om ‘n goeie – nee, die beste mamma vir julle te wees.
