Geboorte

Deur ELZANNE LE ROUX

Vandag (die dag waarop ek die artikel geskryf het) vier ons al ‘n maand van hierdie gesonde bulletjie se lewe.

Ek het ‘n baie maklike swangerskap gehad. Geen oggendnaarheid en allerhande dinge nie. Alhoewel die dokter my in ‘n keiser en toe ‘n induksie wou inboelie, omdat sy verlof sou begin tydens my due date week, het ek sterk gestaan en aangedring op normaal kraam. My verwagte datum was 24 Desember. My grondslagfase-juffrou-hart het gebid dat die Here vir my ‘n week ekstra sou gee sodat ons tweetjies net die 1ste Januarie sou haal. Ek het daardie week geknyp vir die vale en beentjies in die lug gelê. En daar loop ek wraggies tot en met 41 weke! Die aand van die 30ste het ek gedink dis ‘n uitgemaakte saak; boetie sal 2019 eers kom! Yay!!

Maar 02:00 die oggend van die 31ste word ek wakker van sterk “menstruasie-pyne”. Ek gaan piepie in die donker en kom lê weer. 02:15 kom die pyn weer en dis seerder. Ek gaan weer badkamer toe en skakel die keer die lig aan. En my hart mis ‘n slag. Bloed. Baie bloed!! Meer as wat net die slymprop veroorsaak. My eerste gedagte was dat my baarmoeder dalk besig is om los te skeur soos wat die dokter gesê het kan gebeur (daar was 1% kans, volgens my deel van die boelietaktiek). Ons bel die dokter aan diens (nie die plaasvervanger vir my dokter nie, want hy sou eers die volgende dag beskikbaar wees, dus dokter nommer 3) en sy sê ons moet dadelik deurkom.

Dit was die langste 97km van my lewe. En ek bid net dat ons babatjie oraait sal wees en dat ek af en toe nog ‘n beweging van hom kan voel. Hennie was ‘n champ en net na 3 stop ons by ongevalle. Hulle plaas my dadelik op die monitors. EN ALLES IS NORMAAL! Boetie se hartjie klop sterk en die kontraksies is goed aan die gang. Ons is na my hospitaalkamer toe en het daar kaart gespeel en gerus, so tussen die kontraksies deur. Dit het al hoe intenser geword. Ek het iewers gelees dat ‘n mens moet slaap tussen kontraksies en gedink dis bog, hoe slaap ‘n mens vir 3 minute. Maar dit IS SO!! Ek het uitgepaas tussen kontraksies en in ‘n diep slaap verval. Toe die dokter teen 09:00 kom ondersoek instel is ek goed ontsluit, maar die bloeding is nog nie minder nie. Sy het nie ‘n verklaring daarvoor gehad nie. Later die oggend het die bloed steeds nie verminder nie en het sy voorgestel ons versnel die proses deur my water te breek. Die dokter het ‘n tweede opinie ingekry om seker te maak of hul nie eerder moet keiser nie, maar sy hartjie het baie goed geklop, hy het mooi afgesak en ek het goed ontsluit.

Teen dié tyd kon ek die kontraksies nie meer uithou nie. Nevermind die 1ste Januarie, die kind moet NOUUU uit! Daardie laggas is ‘n joke en bring geen verligting nie, net effense afleiding. Dis ‘n anderste pyn wat nie in woorde beskryf kan word nie. Ek het nuwe respek vir Ella van Vetkoekpaleis. O, die pyn! Teen 15:00 het hul my in sittende posisie geplaas met my knieë opgetrek. Dit was tyd om te druk. Uiteindelik!! Ek gaan binnekort die lyfie wat ek binne my gedra het op my bors voel. Jy gaan in ‘n ander mode in. Dis asof ‘n diep, diep instink inskop en alles in jou druk om hierdie baba waarvoor jy só lank gewag het uit te druk. Gou-gou, om 15:17 het hy “uitgeglip”

Ek wag vir die skree. Ek wag dat hulle hom dadelik op my bors sit en ons uitlos vir die “golden hour” soos ek in my hospitaalplan versoek het. Ek wag om daardie lyfie te ruik soos hulle gesê het ek moet maak tydens voorgeboorteklasse. 1000 gedagtes deur my kop. Maar alles in my ruk stil.

Want daar lê hy… Potblou sonder asem. Sonder lewe. Ek let die lang wimpers op. Die perfekte, beeldskone gesiggie. Dis asof tyd stilstaan. My kind is blou. Hy lê net. Die dokter paai nog en sê “he just needs some stimulation” maar hoe meer sy aan hom tik hoe minder reageer hy.

En daar vat hulle hom weg om vir sy lewe te veg. Hennie agterna. Geen golden hour. Geen lewe op my bors en nuwe asempie in my nek. Niks. Hy is weg. In daardie oomblik het daar ‘n doodsheid in my gekom wat ek nie kan beskryf nie. En in hierdie doodsheid het die gedagte by my opgekom; Hoe sê ‘n mens vir almal dat jou lank verwagte baba dood is.

En toe ewe skielik besef ek EK MOET NOU INTREE VIR HIERDIE KIND VAN MY! Die vyand sal hom NIE steel nie. Ek het woordeloos oor en oor en oor in my binneste uitgeskree: “NO weapon formed against him shall prosper, in Jesus’ name!” Ek het sy naam oor hom gespreek: “He is a sign of God’s grace and mercy!” Oor en oor.

Hulle het steke ingesit waar ek geskeur het. Hulle het my later kom was. Hulle het my oorgerol op ‘n nuwe bed en kamer toe gestoot. Geen Hennie. Geen baba. Geen inligting. Niks. Ek het ook nie gevra nie. Ek het net daar in my hospitaalkamer gelê, gestaar na die dak en gewonder of ek ooit geboorte gegee het. Alles het gevoel soos ‘n vae droom.

En toe kom Hennie seker na 2 ure daar aan met ‘n foto’tjie. Ons klein seuntjielyfie in NICU, gekoppel aan masjiene en monitors. Hy het gesukkel met asemhaling en het baie swaar getrek. En toe breek die damwal en ek huil vir die eerste keer. Omdat ek ‘n epiduraal gehad het, kon ek hom nie dadelik gaan sien nie. Ek moes wag. Teen 18:30 kon ek dit nie meer hou nie. Ek het aangedring dat hul vir my ‘n rolstoel bring dat ek my kind kan ontmoet. Die suster waarsku dat ek gaan omkap, maar ek is vasbeslote! Ek gaan my kind sien. Toe ek opstaan begin die wêreld draai en my ore suis en ek sak weer inmekaar op die bed. Sy sê ek moet asseblief nog wag. Om 19:40 maak ek en Hennie ‘n plan; hy gaan die rolstoel só hou dat as ek weer wil omkap dat ek omkap in die rolstoel en dan stoot hy my NICU toe. Haha. Ons maak toe ook so en draaiende kop en singende ore pak ons af, sodat ek my seuntjie uiteindelik kan ontmoet.

En daar lê hy. Kleine, volmaakte lyfie. Ek staar net. Die suster por my aan om aan hom te raak, maar ek is bang hy breek, so broos en weerloos lê hy daar. Ek mag hom nog nie optel nie. Dalk môre, sê sy. Sy sê as my kolostrum inskop moet ek ‘n bietjie vir hom in ‘n spuitnaald probeer opvang. Ek wys vir haar my nat hospitaaljurk soos die kolostrum stroom. Dit het al sedert 20 weke swangerskap ingeskop. Sy spring amper deur die dak van blydskap en gryp my bors net daar en begin tap om later vir hom te probeer gee.

Ek en Hennie is kamer toe gestuur. Ons kan môreoggend weer kom. Geen happy new year vir ons nie. Net twee doodmoeg ouers wat sonder hul lyfie uitpaas op ‘n hospitaalbed en deur die middernag count down en vieringe, in mekaar se arms slaap. (Nee, glo nie dis wettig nie, maar hul het ons laat begaan).

Die volgende oggend niks later as 05:00 nie, is ek en Hennie op en gaan klop aan NICU se deur. Die suster sê hy het ‘n goeie nag gehad. Ek het op die leunstoel gaan sit en my jurk uitgetrek. Sy het van sy pypies afgehaal en hom op my bors geplaas. Vel teen vel. Ek en my seun… Hy het sy mondjie oopgemaak en om my bors gevou en begin voed. Soos ‘n ou mannetjie wat dit al jare doen en nie nog gister geveg het vir sy lewe nie. ‘n Perfekte latch. ‘n Oomblik in tyd wat ek vir altyd, vir altyd in my hart sal koester. Daar is nie woorde om daardie oomblik te beskryf nie. Ek huil nog elke liewe keer as ek daaraan dink. Hennie het ‘n foto geneem daarvan. Ek lyk verskriklik. Maar die oomblik was net so verskriklik perfek.

Hy was daarna nog 2 dae in NICU. Hy is ontslaan na ons saal toe en ‘n dag daarna kon ons drietjies plaas toe gaan om ons nuwe lewe as gesin te begin.

Vandag (die dag waarop ek die artikel geskryf het) is dit al ‘n maand sedert hierdie lewensveranderende gebeurtenis. Dat die grondslagfase-juffrou nou wraggies ‘n kind het wat 31 Desember verjaar. Hihi. Maar dis PERFEK. Dis die dag wat God gekies het. Dis die dag wat God my seun se lewe gered het. Prys die Here! Hy is SO SO goed! Ek het elke aand tydens swangerskap voor slaaptyd vir Jean die liedjie “Reckless love of God” gespeel. As ek hom nou nog probeer sus dan sing ek dit vir hom, dan raak hy kalm. En hoe gepas is die woorde nie:

“Before I took a breath You breathed Your life in me. You have been so, so kind to me”

Mag Jean ‘n lewende getuienis wees van God se goedheid en guns! Mag hy loop in alles wat die Here vir hom beplan het. Dit is God se lewe in sy longe!

MY GOD IS GOED!