Skoolmamma Oorlewingsgids
My vriendin by die werk se dogtertjie is vanjaar vir die eerste keer skooltjie toe. Nog nie skool-skool nie, maar ’n ordentlike kleuterskool met fondsinsamelings en “get-togethers”.
Vanaand is sy op pad na haar heel eerste mamma-“get-together”. Sy stuur vir my ’n voice note met ’n giggel in haar stem en vertel my van haar gesonde snack platter en wat sy gaan aantrek. Ek “oo” en “aa” saam en dink terug aan die eerste keer toe ék na ’n onskuldige mamma-piekniek genooi is.
Elke skool het verskillende soorte mammas, en jy leer hulle almal binne ’n paar sekondes ken.
1. Die in-beheer-mamma
Sy groet dadelik vriendelik en vol selfvertroue. Sy was óf hoofmeisie óf eerste-span-netbalkaptein óf albei by haar eie skool. Sy neem natuurlik leiding en ken almal se name, want sy het die WhatsApp-groepie se kontakte al gememoriseer.
Êrens gedurende die aand gaan sy jou vra waar jy betrokke wil raak, en jy gaan sterk moet staan as jy “nee” wil sê.
2. Die sosiaal-wanaangepaste mamma
Sy vermy oogkontak en lag twee minute ná die grappie. Sy werk nie graag saam met mense nie en maak dit duidelik dat sy nie eintlik betrokke wil wees nie. Tog wil sy by elke vergadering in die hoekie bly sit, en sy vra altyd daardie een ontydige vraag wat reeds beantwoord is.
3. Die ek-het-nie-tyd-nie-mamma
Sy het letterlik nooit tyd nie. Sy wil graag betrokke wees en het voor in die ry gestaan toe talente uitgedeel is, maar sy is altyd laat vir alles.
Sy het reeds veertien balle aan die rol, en die skoolbal is definitief nie nommer een op haar lysie nie.
4. Die klakous-mamma
Sy weet presies hoe om elke fout uit te wys. Sy dra nie juis by tot die groei van enigiets nie, maar huiwer nie om ’n donker wolkie oor elke sonskyndag te trek nie.
5. Die ek-dink-ek-kan-als-doen-mamma
Sy bied aan om met alles te help. Sy is ’n “pro” in alles, maar wanneer dit by die uitvoering kom, lyk dinge maar redelik amateur. Die meeste van haar projekte realiseer nooit nie, en ná die derde mislukte poging word sy in beheer van die hotdogstalletjie geplaas.
6. Die WhatsApp-groepie-skim-mamma
Sy praat nooit op enige groep nie. Sy ry self, selfs wanneer dit reën, met haar sonbril op en ken niemand se name nie. Haar kind hou nooit partytjies nie, en jy sal haar omtrent nooit by ’n skoolvergadering sien nie.
7. Die ek-is-net-hier-vir-die-wyn-mamma
Sy is gewoonlik reeds een glas voor die res. Sy sê maklik JA en hou van enige werkie wat nie te veel verantwoordelikheid verg nie. Sy het altyd ’n groepie mede-“wynmammas” wat saam oor stout grappies lag.
8. Die gesonde-snack-mamma
Sy bring net vars of tuisgemaakte happies. Haar kind is intolerant vir iets, en kry groen smoothies vir pousekos ingepak. Hierdie mamma dra gewoonlik ’n gymbroek en het blykbaar nie grimering nodig nie.
9. Die ek-werk-nie-mamma
Sy is altyd bereid om briefies te vou of winkel toe te ry vir die laaste goedjies. Al haar gesprekke begin met: “Ek weet nie hoe jy dit doen nie …” en eindig met: “Ek werk eintlik baie harder as toe ek gewerk het.”
10. Die nie-my-eerste-rodeo-nie-mamma
Sy het reeds twee, drie, vier of vyf kinders op skool, of hulle is klaar deur die skoolstelsel. Sy ken elke onderwyser op die naam, weet wat elke kwartaal gaan gebeur en weet presies waar die spesiale Ouerverteenwoordiger-voorskote in die klubhuis gebêre word.
En êrens tussen al die mammas vind jy jou plek …
Tussen al die mammas vind jy op die een of ander vreemde manier jou plek. Jy leer om net genoeg JA te sê sodat die onderwysers darem weet wie se ma jy is. Maar jy leer ook om net genoeg NEE te sê om jou eie kop bo water te hou.
Jy leer dat daar sonder mammas en pappas se bydraes — fisies én finansieel — nie veel by openbare skole gebeur nie. Jy leer dat dit baie rowwer is om ’n skoolmamma te wees as wat jy gedink het, en skielik het jy baie meer respek vir jou eie ma.
Jy leer baie vinnig wie jou mense is en dat jou “tribe” jou deur alle krisisse sal kry. Dat dieselfde mamma wat jy gedink het glad nie jou soort mens is nie, dalk juis die een is wat jy langs die krieketveld nodig het.
Jy gaan leer dat jy uniek is en dat elkeen van hierdie mammas nodig is om balans in ’n mal wêreld te bring. Maar die belangrikste van alles: jy gaan leer hoekom jy die beste ma vir jou kind is.
So, as jy vanaand jou eerste mamma-kuier het, vat jou snack platter saam — tuisgemaak of sommer ’n pakkie gekoopte kolwyntjies — en gaan wees net JY!
Want JY is wat jou kind nodig het, en JY is wat jou kind se skool nodig het.
Herken jy van hierdie mammas? En watter mamma is jy?