’n Geboortestorie
vol geloof, hoop
en wonderwerke
Vandag vier ons al ’n maand van hierdie gesonde bulletjie se lewe!
Ek het ’n baie maklike swangerskap gehad. Geen oggendnaarheid en allerhande dinge nie. Alhoewel die dokter my in ’n keiser en toe ’n induksie wou inboelie omdat haar verlof sou begin tydens my due date-week, het ek sterk gestaan en aangedring op normaal kraam.
My verwagte datum was 24 Desember. My grondslagfase-juffrou-hart het gebid dat die Here vir my ’n week ekstra sou gee, sodat ons tweetjies net die 1ste Januarie sou haal. Ek het daardie week geknyp vir die vale en met my beentjies in die lug gelê. En daar loop ek wraggies tot en met 41 weke!
Die aand van die 30ste het ek gedink dis ’n uitgemaakte saak: Boetie sal eers in 2019 kom! Yay!!
Die langste 97 km van my lewe
Maar om 02:00 die oggend van die 31ste word ek wakker van sterk “menstruasiepyne”. Ek gaan piepie in die donker en kom lê weer. Om 02:15 kom die pyn terug, en dié keer is dit seerder.
Ek gaan weer badkamer toe en skakel dié keer die lig aan.
En my hart mis ’n slag.
Bloed. Baie bloed!! Meer as wat net die slymprop veroorsaak.
My eerste gedagte was dat my baarmoeder dalk besig was om los te skeur, soos die dokter gesê het kán gebeur. Daar was glo ’n 1%-kans, volgens my deel van die boelietaktiek.
Ons bel die dokter aan diens — nie die plaasvervanger vir my gewone dokter nie, want hy sou eers die volgende dag beskikbaar wees. Dus dokter nommer drie! Sy sê ons moet dadelik deurkom.
Dit was die langste 97 km van my lewe.
Ek bid net dat ons babatjie oraait sal wees en dat ek af en toe nog ’n beweging van hom kan voel. Hennie was ’n champ, en net ná drie stop ons by ongevalle.
Hulle plaas my dadelik op die monitors.
EN ALLES IS NORMAAL!
Boetie se hartjie klop sterk en die kontraksies is goed aan die gang.
Ons word na my hospitaalkamer geneem, waar ons kaart speel en rus — so tussen die kontraksies deur. Dit raak al hoe intenser.
Ek het iewers gelees dat ’n mens tussen kontraksies moet slaap en gedink dis bog. Hoe slaap ’n mens vir drie minute? Maar dit IS SO!! Ek het sommer uitgepas tussen kontraksies en in ’n diep slaap verval.
Toe die dokter omstreeks 09:00 kom ondersoek instel, is ek goed ontsluit, maar die bloeding het nog nie minder geword nie. Sy het nie ’n verklaring daarvoor gehad nie.
Later die oggend het die bloeding steeds nie verminder nie, en sy het voorgestel dat ons die proses versnel deur my water te breek. Die dokter het ’n tweede opinie ingekry om seker te maak of hulle nie eerder ’n keiser moes doen nie. Maar sy hartjie het baie goed geklop, hy het mooi afgesak en ek het goed ontsluit.
Die pyn, die druk en die groot oomblik
Teen hierdie tyd kon ek die kontraksies nie meer uithou nie.
Never mind die 1ste Januarie! Die kind moet NOUUU uit!
Daardie laggas is ’n joke en bring geen verligting nie. Dit bied net effense afleiding. Dis ’n anderste pyn wat nie in woorde beskryf kan word nie.
Ek het nuwe respek vir Ella van Vetkoekpaleis.
O, die pyn!
Teen 15:00 het hulle my in ’n sittende posisie geplaas, met my knieë opgetrek. Dit was tyd om te druk.
Uiteindelik!!
Ek gaan binnekort die lyfie wat ek binne my gedra het, op my bors voel. Jy gaan in ’n ander mode in. Dis asof ’n diep, diep instink inskop en alles in jou druk om hierdie baba waarvoor jy só lank gewag het, uit te druk.
Gou-gou, om 15:17, het hy “uitgeglip”.
Die oomblik toe alles stil geword het
Ek wag vir die skree.
Ek wag dat hulle hom dadelik op my bors sit en ons uitlos vir die “golden hour”, soos ek in my hospitaalplan versoek het.
Ek wag om daardie lyfie te ruik, soos hulle tydens voorgeboorteklasse gesê het ek moet doen.
Duisend gedagtes gaan deur my kop.
Maar alles in my ruk stil.
Want daar lê hy…
Potblou. Sonder asem. Sonder lewe.
Ek let die lang wimpers op. Die perfekte, beeldskone gesiggie.
Dis asof tyd stilstaan.
My kind is blou.
Hy lê net.
Die dokter probeer my gerusstel en sê: “He just needs some stimulation.” Maar hoe meer sy aan hom tik, hoe minder reageer hy.
En daar vat hulle hom weg om vir sy lewe te veg.
Hennie agterna.
Geen golden hour nie. Geen lewe op my bors en nuwe asempie in my nek nie.
Niks.
Hy is weg.
In daardie oomblik het daar ’n doodsheid in my gekom wat ek nie kan beskryf nie. En in hierdie doodsheid het die gedagte by my opgekom:
Hoe sê ’n mens vir almal dat jou lankverwagte baba dood is?
“No weapon formed against him shall prosper!”
En toe, ewe skielik, besef ek: EK MOET NOU INTREE VIR HIERDIE KIND VAN MY!
Die vyand sal hom NIE steel nie.
Ek het woordeloos, oor en oor en oor, in my binneste uitgeskree:
“No weapon formed against him shall prosper, in Jesus’ name!”
Ek het sy naam oor hom gespreek:
“He is a sign of God’s grace and mercy!”
Oor en oor.
Hulle het steke ingesit waar ek geskeur het. Hulle het my later kom was. Hulle het my oorgerol op ’n nuwe bed en na my kamer gestoot.
Geen Hennie nie.
Geen baba nie.
Geen inligting nie.
Niks.
Ek het ook nie gevra nie. Ek het net daar in my hospitaalkamer gelê, na die dak gestaar en gewonder of ek ooit geboorte gegee het.
Alles het gevoel soos ’n vae droom.
En toe kom Hennie, seker ná twee ure, daar aan met ’n foto’tjie.
Ons klein seuntjielyfie in NICU, gekoppel aan masjiene en monitors.
Hy het gesukkel met asemhaling en baie swaar getrek.
En toe breek die damwal.
Ek huil vir die eerste keer.
Omdat ek ’n epiduraal gehad het, kon ek hom nie dadelik gaan sien nie. Ek moes wag.
Teen 18:30 kon ek dit nie meer hou nie. Ek het aangedring dat hulle vir my ’n rolstoel bring sodat ek my kind kon ontmoet.
Die suster waarsku dat ek gaan omkap, maar ek is vasbeslote!
Ek gaan my kind sien.
Toe ek opstaan, begin die wêreld draai, my ore suis en ek sak weer inmekaar op die bed. Sy sê ek moet asseblief nog wag.
Om 19:40 maak ek en Hennie ’n plan: hy gaan die rolstoel só vashou dat, as ek weer wil omkap, ek in die rolstoel omkap en hy my dan NICU toe stoot.
Haha!
Ons maak toe ook so. Met ’n draaiende kop en singende ore pak ons af, sodat ek my seuntjie uiteindelik kan ontmoet.
My klein, volmaakte lyfie
En daar lê hy.
Kleine, volmaakte lyfie.
Ek staar net.
Die suster por my aan om aan hom te raak, maar ek is bang hy breek. So broos en weerloos lê hy daar.
Ek mag hom nog nie optel nie.
Dalk môre, sê sy.
Sy verduidelik dat ek, wanneer my kolostrum inskop, ’n bietjie daarvan in ’n spuitnaald moet probeer opvang.
Ek wys vir haar my nat hospitaaljurk, want die kolostrum stroom! Dit het al sedert 20 weke van my swangerskap ingeskop.
Sy spring amper deur die dak van blydskap en gryp my bors net daar om melk te tap, sodat hulle dit later vir hom kan probeer gee.
Ek en Hennie word teruggestuur kamer toe. Ons kan môreoggend weer kom.
Geen Happy New Year vir ons nie.
Net twee doodmoeg ouers wat sonder hul lyfie op ’n hospitaalbed uitpass en deur die middernagtelike countdown en vieringe, in mekaar se arms, slaap.
(Nee, ek glo nie dis wettig nie, maar hulle het ons laat begaan.)
Die mooiste nuwejaarsgeskenk
Die volgende oggend, niks later as 05:00 nie, is ek en Hennie op en gaan klop aan NICU se deur.
Die suster sê hy het ’n goeie nag gehad.
Ek gaan sit op die leunstoel en trek my jurk uit. Sy haal van sy pypies af en plaas hom op my bors.
Vel teen vel.
Ek en my seun…
Hy maak sy mondjie oop, vou om my bors en begin voed. Soos ’n ou mannetjie wat dit al jare doen en nie nog gister vir sy lewe geveg het nie.
’n Perfekte latch.
’n Oomblik in tyd wat ek vir altyd, vir altyd in my hart sal koester.
Daar is nie woorde om daardie oomblik te beskryf nie.
Ek huil nog elke liewe keer as ek daaraan dink.
Hennie het ’n foto daarvan geneem. Ek lyk verskriklik. Maar die oomblik was net so verskriklik perfek.
Hy was daarna nog twee dae in NICU. Hy is ontslaan na ons saal toe, en ’n dag daarna kon ons drietjies plaas toe gaan om ons nuwe lewe as gesin te begin.
Die dag wat God gekies het
Vandag, die dag waarop ek hierdie artikel skryf, is dit al ’n maand sedert hierdie lewensveranderende gebeurtenis.
Dat die grondslagfase-juffrou nou wraggies ’n kind het wat op 31 Desember verjaar!
Hihi.
Maar dis PERFEK.
Dis die dag wat God gekies het.
Dis die dag wat God my seun se lewe gered het.
Prys die Here! Hy is SO, SO goed!
Ek het elke aand tydens my swangerskap, voor slaaptyd, vir Jean die liedjie “Reckless Love of God” gespeel. As ek hom nou probeer sus, sing ek dit vir hom, en dan raak hy kalm.
En hoe gepas is die woorde nie:
“Before I took a breath, You breathed Your life in me. You have been so, so kind to me.”
My God is goed!
Mag Jean ’n lewende getuienis wees van God se goedheid en guns! Mag hy loop in alles wat die Here vir hom beplan het.
Dit is God se lewe in sy longe!
MY GOD IS GOED!
