STORIES & INSPIRATION
♡

Net Genade

♡

My getuienis begin met ’n doodgewone dag in ons gesin se huishouding.

Ons oudste seun, Zantus (8), se twee maats het by hom kom aanklop om wegkruipertjie in ons tuin te speel. Om dit nog meer opwindend te maak, het hulle my gevra of Zantus se twee boeties, Xarius (3) en Marnus (2), saam met hulle mag speel. Soos die Engelse gesegde lui: “The more, the merrier.” My antwoord was natuurlik ja, want net soos die ouer seuns dit geniet, geniet Xarius en Marnus dit ook om lekker saam te speel.

Ek het op die stoep gesit en hulle fyn dopgehou, want dit was herfs en daar het blare in die swembad gelê. Ons het nie die swembad toegemaak nie, aangesien ons die blare later daardie middag daaruit wou haal. Die stoep het ’n goeie uitsig oor die swembad gebied, en daarom het ek baie gerus gevoel terwyl ek daar gesit het.

Ná ’n ruk het ek vir Zantus, sy twee maats, asook Xarius en Marnus gesê dat ek net gou die wasgoed binne gaan haal en dit dan buite op die stoep sou kom opvou, waar ek hulle steeds kon dophou. Ek het die drie oudstes gevra om asseblief die babas – soos almal die twee kleinstes noem – dop te hou. Ek het ook gevra dat een van hulle by die kleintjies moet bly wanneer hulle wegkruip, terwyl ek net gou die wasgoed stoep toe bring.

Sodra ek my rug gedraai het, het Xarius my geroep. Ek het dadelik gedink dat hy wou hê ek moes hom help soek na die een wat weggekruip het. Ek het probeer tyd wen deur van binne die huis met hom te gesels terwyl ek die wasgoed vinnig bymekaar geraap het. Maar Xarius se noodkrete het al hoe meer benoud geraak. Ná seker ’n minuut kon hy uiteindelik die woorde uit sy klein mondjie kry: Marnus is in die swembad.

Die oomblik wat alles verander het

Ek kan nie beskryf hoe daardie woorde op ’n mens se ore val nie. Alles word yskoud. Jou bene voel soos dooie gewig, maar op die een of ander manier kom jy binne twee tree by jou kind uit.

Marnus kon nie swem nie. Ek, sy ma, kon wel. Ek het op skool geswem, aan swemgala’s deelgeneem, die Midmar-myl geswem en vir ’n paar jaar elke dag gaan oefen. Swem was van my derde lewensjaar af so ingebore soos loop.

Hierdie ironie het deur my kop gemaal terwyl ek daardie twee tree na die swembad gee. Terselfdertyd het ek gebid: “Asseblief, Here, asseblief, laat hierdie kind van my net hierdie kennis van swem hê.”

Ek het hom immers net in die gimnasium se swembad aan water laat gewoond raak en hom so tussendeur geleer om borrels te blaas, te skop en in te spring. Ek het nie eers gedink aan die moontlike impak wat die koue water op sy lyfie kon hê nie.

Toe ek buite kom, het my liefste Marnus soos ’n paaltjie in die swembad gedryf. Sy koppie het soos ’n polistireenballetjie bo die water gedryf, terwyl sy lyfie onder die water was. En sy blouste ogies was kalm en vol lewe.

My kind het geleef.

My kind, wat nie kon swem nie en in die swembad geval het, het geleef. Hy het met die grootste kalmte gedryf. Die Here se hand was onder hom.

My derde tree was reguit in die swembad in, met skoene en klere aan. Ek het hom reg langs die swembad neergelê, gereed om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas, maar dit was nie nodig nie.

Die Here se hand was heeltyd onder my kind in die swembad, totdat ek weer as mamma kon intree en hom uithaal. Hy het absoluut geen water ingesluk nie en ook geen skok as gevolg van die koue water ervaar nie.

Wanneer skuldgevoelens inkom

Sy boeties het in die proses baie skuldig gevoel. Ek het egter ’n wonderlike kalmte oor my gekry, wat my gehelp het om nie paniekerig te raak nie en hulle te verseker dat dit glad nie hulle skuld was nie. Want dit was nie.

Elkeen het gedink dat die ander een by die kleintjies was. Gelukkig was Xarius by Marnus, en gelukkig het die Here vir Xarius die vermoë gegee om my te roep.

Mettertyd het ek deur baie selfverwyt en ook die oordeel van ander mense gegaan.

Ja, ek móés heeltyd gekyk het. Ja, die swembad móés toegemaak gewees het. Ja, ’n mens los nie ’n kind vir ’n sekonde alleen nie.

Wat as Xarius my nie geroep het nie?

Ek het baie geworstel met die “wat as”, maar mettertyd het die Here my tot rus gebring terwyl ek Sy Woord bestudeer het. Dit was ’n ongeluk, en Hy was daar. Ek is net ’n mens, en niks maak my minder lief vir my kind nie.

Net genade

Ons kan nie altyd by ons kinders wees nie, al wil ons hoe graag. Ons kan ook nie alles beheer nie. Ons is net mense en maak ook foute.

Dit is waarom ons elke oggend die Here se hand oor én onder ons kinders moet afbid en hulle aan Hom moet toevertrou. Hy het ons as ouers en versorgers aangestel, maar ons moet steeds onthou dat Hy in beheer is.

Ons kinders is Sy kinders, en ons is juis deur Hom as ouers aangestel omdat ons die beste ouers vir daardie spesifieke kind kan wees. Ons ontvang die vermoë van die Here om ons kinders volgens Sy wil en roeping vir hulle lewens groot te maak.

♡

Ek is dankbaar dat die Here in ons huis is.

Deur Marcelle de Klerk