Stories & Inspiration

Mamma is jammer

♡

Trane lê vlak in haar oë en ek sien hoe sy die knop in haar keel met ’n sluk wegdruk. Ek voel dit ook soms. Ek weet presies hoe sy voel.

“Ek voel so skuldig,” sê sy. “Ek voel soos die slegste ma …”

“Ek voel soms asof ek nie my kinders verdien nie,” vul ek haar sin aan.

“Ja!!! Presies!! Dit is hoe ek voel,” sê sy.

Daar in my kombuis begin ons twee ma’s uitpak, oopmaak en deel hoe sleg ons soms voel wanneer ons dinge verkeerd hanteer of ongeduldig raak met ons kleingoed.

Ons voel ligter daarna, verlig dat daar iemand anders is wat ook die dinge doen en sê wat ons soms saans wakker hou en waarmee ons soms worstel.

Ek voel verfris en gereed om die beste ma te wees wat daar is, met sakke vol geduld, toe my dogtertjie weer haar gilletjie gooi – van toeka tot nou! Waaroor, wel, kan ek jou steeds nie sê nie …

Ek haal diep asem, bid en tel tot tien, maar voel weer oorweldig. Nadat ek al die “style” en maniere probeer het – om te verstaan, op haar vlak met haar saam te praat, saggies te fluister en drukkies te gee – raak my lont kort. Voor ek my kon kry, verhef ek weer my stem en sê harder as wat ek wou: “Genoeg is genoeg, magtig!!! Hou net op!!!”

Die kamer word stil, en al wat oorbly, is my skuldgevoel en my snikkende dogtertjie.

Ai, my kind. Mamma is jammer. Jammer vir die foute wat ek maak en nog gaan maak.

Wanneer mamma jammer sê

Vandag het ek te hard gepraat. Ek is jammer.

Vandag het ek jou aan jou armpie van boetie af weggetrek toe jy hom wou seermaak. Ek het té hard geruk. Mamma is jammer.

Ek het vandag ongeduldig geraak omdat jy nie jou emosies kon hanteer nie. Ek is jammer.

Vandag het ek deel geword van jou chaos in plaas daarvan om vir jou rustigheid te gee. Ek is jammer.

Ek is jammer, my kind, dat ek vandag in ma-wees misluk het. Ek is jammer dat ek vandag ’n slegte mamma vir jou was. Ek is jammer dat ek nie my eie emosies eenkant kon sit en die stilte in jou storm kon wees nie.

Ons maak almal foute

Weet net dat ons foute maak – ja, selfs mamma. En as jy vandag een waarheid uit al die chaos by my kon leer, hoop ek dit is dat jy sal weet dit is oukei om soms te voel asof jy net wil skree. Ja, selfs wanneer jy ’n mamma is.

Weet dat jy maar foute mag maak, solank jy dit raaksien, om vergifnis vra, dit probeer regmaak, weer opstaan en aangaan. Solank jy probeer om die volgende keer beter te doen. Probeer weer, nog ’n keer, om in beheer te wees, in die oomblik asem te haal en oor te begin.

Ek kan nie terugvat dat ek hard geraas het of dat ek onredelik en ongeduldig was nie, maar ek kan weer probeer.

Ek kan nie gister verander nie, maar ek kan môre weer probeer.

Ek kan erken waar ek verkeerd was, om vergifnis vra en doelbewus probeer om die volgende keer anders op te tree.

Môre sal ek weer probeer

So, my kind, môre sal ek op my knieë gaan om jou in die oë te kyk wanneer jy skree, sodat jy die kalmte in my oë kan raaksien en veilig kan voel.

Môre sal ek weer probeer om sagter te praat en jou meer aandag te gee – onverdeelde aandag.

Môre sal ek jou klein armpies om my nek sit, al is dit moeilik en al stamp jy my weg.

Môre sal ek weer saam met jou stap, die kleure van die blomme raaksien en skoenlappers oor die groen gras jaag.

Ons kan môre weer katte gaan soek en lag oor ditjies en datjies.

Môre is nog ’n dag, en môre sal ek weer probeer om ’n goeie – nee, die beste mamma vir julle te wees.

Deur Melissa Aucamp