Kinderhuiskind
Elke kind het sy eie storie. Liefde maak ’n lewenslange verskil.
Ek was maar vier jaar oud toe my pa vermoor is en ons kinderhuis toe is.
Ek onthou die klomp huise, die nuwe dorp en die verlange na alles en almal wat ons agtergelaat het. Maar ek onthou ook tannie Annetjie Stahmer en haar man. Hulle het my met ope arms ontvang, en min het ek geweet dat die waardes wat hulle my van kleins af geleer het, my tot vandag toe sou bybly.
Hulle het na my omgesien totdat ek elf jaar oud was.
Daar was altyd iemand
Ek lees so baie van mense wat sê dat kinderhuiskinders gewoond raak daaraan om alleen te wees. Dan dink ek by myself: Hulle het duidelik nie die huisouers gehad wat ék gehad het nie!
As ons gehuil het, was my tannie daar. En daar was altyd iemand. Of dit nou een van ons huisouers of jou kamerprefek was, daar was altyd iemand na wie jy kon gaan.
Ek dink tog dat ons as kinderhuiskinders op baie maniere bevoorreg was. Ons het drie maal per dag kos gekry en het nooit honger gaan slaap nie — behalwe wanneer ons gedurende die vakansies huis toe gegaan het.
Ons kon aan sport deelneem, al het ons meestal tweedehandse klere gedra. Maar dit was ordentlike klere, en ons het gehad wat ons nodig gehad het.
Ons het ook geleer om na onsself om te sien. Ons moes ons eie beddens opmaak, ons kamers skoon hou en verantwoordelikheid aanvaar.
By die kinderhuis het ek soms meer soos ’n kind gevoel as by my eie ouerhuis.
Liefde wat jy nooit vergeet nie
By die kinderhuis het ek geweet my huisouers is lief vir my en gee vir my om.
Hulle het saam met ons gelag en saam met ons gehuil. Hulle het ure saam met ons gesit om huiswerk te doen, vir toetse te leer en skooltake af te handel. En dit alles sonder om een keer daaroor te kla.
Ek kan eerlikwaar nie onthou dat ek ooit my huisouers hoor kla het oor die tyd en moeite wat hulle aan ons bestee het nie.
Wanneer ek vandag terugdink aan my kinderjare, is die kinderhuis een van my mooiste herinneringe.
Dit is dalk nie wat mense verwag om te hoor nie. Baie mense assosieer ’n kinderhuis met hartseer, eensaamheid en verwerping. En ek besef dat elke kind se ervaring anders is. Maar my ervaring was ook een van liefde, omgee en mense wat daar was wanneer ek hulle nodig gehad het.
Moenie aannames maak nie
Ek verstaan dat mense wat nooit self in ’n kinderhuis was nie, dalk dink hulle weet presies hoe dit daar aangaan. Maar soms is ons vinnig om ’n mening te vorm oor iets waarvan ons eintlik baie min weet.
My eie vriendin het eendag op hoërskool die mening uitgespreek dat kinderhuiskinders vuil is, stink en luise het.
Toe ek vir haar sê dat ék ’n kinderhuiskind was, was sy heeltemal geskok! Sy het gesê dat ek nie soos een lyk of my soos een gedra nie.
Dit het my laat besef hoe maklik mense ’n hele groep kinders in een boksie plaas, sonder om die individuele stories agter elke kind te ken.
Die moral of the story?
Moenie aannames maak nie.
Jy weet nie altyd waardeur iemand gegaan het nie. Jy weet nie wie hulle hand vasgehou het toe hulle bang was, wie hulle getroos het wanneer hulle gehuil het of wie hulle geleer het om in hulself te glo nie.
Elke kind het ’n storie. En elke storie verdien om met begrip en respek benader te word.
Aan elke huismamma: Baie dankie!
Vir elke huismamma wat na leenkinders omsien, wil ek uit my hart sê: Baie, baie dankie!
Dankie vir die rol wat julle in hierdie kinders se lewens speel. Dankie dat julle liefde gee aan ’n kindjie wat nie biologies julle eie is nie.
Dankie vir julle geduld met kinders wat dalk al baie seer in die lewe beleef het. Kinders wat soms nie weet hoe om liefde te ontvang nie, of wat dalk geleer het dat seerkry en liefde hand aan hand gaan.
Dankie dat julle nie opgee nie.
Dankie dat julle aanhou om liefde te gee, selfs op die dae wanneer dit moeilik is. Dankie dat julle daar bly, dat julle luister, dat julle troos en dat julle weer en weer probeer.
Julle besef dalk nie altyd hoe diep julle invloed strek nie. Die dinge wat julle vandag vir ’n kind leer, kan hom of haar nog baie jare later dra. Julle geduld, waardes en liefde kan deel word van die mens wat daardie kind eendag word.
Dankie vir julle opoffering. Dankie vir julle liefde. En dankie dat julle vir kinders ’n plek gee waar hulle veilig kan voel en bloot kinders kan wees.
My liewe tannie Annetjie
En vir my liewe tannie Annetjie Stahmer …
Ek hoop ek het so goed uitgedraai soos wat tannie geglo het ek sou! Ek hoop dat ek tannie trots gemaak het.
Ek hoop tannie weet dat die liefde, waardes en lewenslesse wat tannie my as klein dogtertjie geleer het, nie saam met my kinderjare verdwyn het nie. Dit het deel geword van wie ek vandag is.
Dankie dat tannie my met ope arms ontvang het. Dankie dat tannie daar was. En dankie dat tannie ’n verskil in my lewe gemaak het.
Party mense stap net vir ’n rukkie saam met ons op ons lewenspad, maar laat voetspore wat ons vir altyd saam met ons dra.
Tannie is een van daardie mense in my lewe.
