‘n Swangerskap “journey”! 

 

Ek is swanger!  Jy is op pad!!

Wat ‘n “journey”?  Toets na toets.  Van dokter na dokter.  Operasie na operasie.  Medikasie en nogmaals medikasie.  Miskraam 1, miskraam 2 en miskraam 3.

Die pad tot die uiteindelike positiewe toets was lank, moeilik, uitdagend en om die minste te sê ‘n emosionele “roller-coaster” op sy beste.  Dokters wat eindelose toetse, operasies en medikasie probeer, met die hoop om te probeer vasstel wat gaan help om swanger te word.  ‘n Fantastiese GP wat elke keer net so hard saam huil as nog ‘n toets negatief is.

Dan word die besluit geneem om alle probeerslae te stop.  Dit beinvloed my en Pappa se huwelik, want Mamma is obsessief.  Dit veroorsaak dat ek fisies siek raak, om nie eens te praat van wat hierdie hele “journey” psigies aan my doen nie.

Dinge gaan beter.  Ek en Pappa vind mekaar en ons besluit om ‘n hondjie te kry.  Ons gaan weg vir die naweek.  Geniet ons self en ontspan te heerlik.  Gly op die waterglybane af sodat jy net water sien spat.  Lag, gesels en maak eindelose grappies met die familie.  Tydens Sondagmiddagete staan ek op, want die reuk van sekere kosse maak my naar.  ‘n Hewige gespottery bars los.  Ek lag dit af (diep binne my wil ek nie dink aan die moontlikheid nie, want wat as ek my hoop opkry en dit is net weer negatief?).

En so begin dit …

Gaan maar na die GP toe.  Hoe meer ek uitbrei oor hoe ek voel hoe breër glimlag sy.  Ons doen ‘n toets.  Dit wys POSITIEF!  Nogsteeds is ek in ernstige ontkenning.  Dit is ‘n fout (bitter bang ek kry my hoop op en dit word net weer tot in die grond in verpletter).  Dr is so opgewonde, sy doen dadelik ‘n sonar en trek bloed.  Ons sien iets, maar onseker wat.  Word gestuur vir nog ‘n sonar.  “Mevrou, as jy swanger is, is dit ‘n ektopiese swangerskap.  Beide buise is hewig geswel!”  Ek besluit om alle emosie te onderdruk.  Kom terug by die Dr en daar staan sy met die grootste glimlag op haar gesig.  Bloedtoets is positief.  Daar word gereël dat ek dadelik ‘n ginekoloog gaan sien.  Sonar 3 bevestig swangerskap, nie in die buise nie, maar in die uterus.

Ek en Pappa ry huis toe in doodse stilte.  Bang om iets te sê, want ons is bang dit is net ‘n droom.

Die werklikheid begin insink.  Die maande loop verby en my maag groei.  Jy beweeg en word onlosmaaklik deel van my.  Jy lê onder my hart, my seun, my vegter, my wens wat waar geword het.

Ons saamgroeipad begin op ‘n koue, Sondagoggend.  Min het ons geweet van wat die lewe vir ons inhou.  ‘n Week in NICU, heen en weer hospitaal toe en elke keer terugkom na jou kamer wat 100% regstaan vir jou.

Uiteindelik kom jy huis toe.  Ons is ‘n gesin!!!!

Ek is jou Mamma en jy is my seun.  Ek is ontsettend dankbaar vir elke dag saam met jou en oneindig lief vir jou!!!

 

– Charné Ries