Liewe Mamma,

As jy hierdie lees, het ek en jy heel moontlik baie in gemeen en gaan ons nog lekker saam gesels op hierdie forum.

Ek is nou wel ‘n Mammas 24/7-ambassadeur wat op TV en radio verskyn, maar bowenal is ek ook net ‘n doodgewone mamma wat oor dieselfde as jy wonder, bekommer, bewonder en waardeer.

Om ‘n ma te wees, is sonder twyfel (cliché of te not) die heel grootste wonderwerk, geskenk en voorreg. Glo my, ek weet, want ons het vir vier jaar deur inseminasies, IVF-behandeling, ens. gegaan, asook ons knieë deurgebid vir ‘n klein bondeltjie vreugde … So wanneer jy my vra wat my grootste droom is (soos my vriend Hykie Berg die ander dag het), gaan ek – sonder om twee keer te dink – vir jou antwoord: My grootste droom is reeds ‘n realiteit – daai twee lyfies (Jeandré en Sumé) vir wie ek elke dag kan opsoen!

Dit gesê, is ma-wees nie aldag maklik nie … inteendeel, hulle maak my soms mal! Ek dink ons as mammas is baie geneig om nie oop en eerlik oor ons “struggles” te praat nie. En hoekom nie? Want dit maak ons REAL & RELATABLE!

So, mag hierdie die begin van ‘n wonderlike avontuur wees, waar ons as mammas saam kan leer, groei, huil en lag, SONDER PRETENSIE & OORDEEL! Waar ons vir mekaar ‘n ruimte kan skep waarbinne ons kan veilig voel en met absolute vrymoedigheid ons harte kan deel.

Dankie dat jy vir my die geleentheid gun om my hart met jou te deel.

Tonne baie liefde!

Mandi

Xxx